Reg in eie hand neem of mag 'n medikus straf?
Enkele aantekeninge oor die bloedwraak in die Ou Testament en of dit nog so toegepas moet word.
Wat jy hieronder lees is ’n kort lesing wat op ’n kongres vir medici gehou is. Nogtans reik die betekenis hiervan baie verder.
Ons leef in ‘n tyd en ‘n samelewing waarin die owerheid God se wet al hoe minder in die openbare lewe eerbiedig. Die regspraak vervreem op allerhande punte ook al hoe meer van God se goeie wet. As ‘n mens dit sien kan die verleiding baie groot wees om die reg in eie hand te neem. Is dit ‘n medikus toegestaan om ‘n moordenaar wat nie die doodstraf ontvang nie ‘n behandeling te weier waardeur hierdie man of vrou gou sterf? Mag 'n medikus so’n mens deur ‘n inspuiting dood omdat die hof vir die man of vrou nie die regte straf gegee het nie?
Mag mense medici wat aborsies uitvoer doodmaak omdat hulle moorde pleeg en nie deur die bevoegde instansies gestraf word nie? Kan ‘n mens hierby ‘n beroep op die instelling van die bloedwreker in die Ou Testament doen?
Bloedwraak in die Ou Testament.
Ons lees in die Ou Testament meerdere kere van bloedskuld of van ‘n bloedwreker. Enkele voorbeelde daarvan is: Eks 22:2,3; Lev 20:9; 2 Sam 21:1; Num 35;12,19-27; Deut 19:6,12; Jos 20:3-9.
Wie was nou ‘n bloedwreker? Dit was die persoon wat die persoon wat ‘n ander vermoor het, agtervolg en doodmaak. Die volk Israel het die reg en selfs die plig tot bloedwraak geken. ‘n Bloedwreker mag nie so handel dat ‘n moordenaar sy skuld met ‘n groot som geld afkoop nie. Ons lees dit in Numeri 35:31: “Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ‘n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.”
Wat was die eintlike funksie van die bloedwreker? Hierdie vraag is belangrik omdat in Israel nie net ‘n reg was nie maar ook ‘n plig. Ons lees dit in Num 35:31; Deut 19:13.
Die agtergrond vir hierdie plig is dat God se oordeel op hierdie aarde uitgevoer moet word. Sekere mense moet daarvoor verantwoordelik gestel word. Die HERE kan hulle later as verantwoordelikes daarop aanspreek. Die diepste motief daarvoor lê daarin dat God die mens volgens Sy beeld gemaak het. Sien Gen 1:26-28. Die HERE straf die skending van die menslike lewe. Die bloed van die mens wat vermoor is roep tot die HERE. (Gen 4:10) God soek dan die bloed van die moordenaar. (Ps 9:13) ‘n Moordenaar moet daarom met die dood gestraf word. (Gen 9:6) Die bloedwreker is die persoon wat deur God aangewys is om God se oordeel op hierdie aarde te voltrek. (Eks 21:12-15; Deut 19:13)
Dit lyk in ons oë gevaarlik om bloedwraak in ‘n samelewing toe te staan. By baie onder ons sal dit selfs ‘n onbehaaglike gevoel oproep dat iemand wat ‘n ander gedood het, vir ons gevoel sommer deur ‘n ander gedood kon word.
Die woord sommer is hier verseker nie op sy plek nie.Dis nie so dat die HERE onder Sy volk toelaat dat mense die reg in eie hand neem nie. Ook as dit om bloedwraak gaan, gee die HERE vir Sy volk wette wat die bloedwraak binne regverdige perke hou. Die reg kan vanuit emosie en gevoelens verkeerd toegepas word. Die volgende voorskrifte het die HERE gegee om ook by sake waar ‘n ander gedood is daarvoor te sorg dat nie ‘n mens se gevoelens nie maar God se reg uitgeoefen word:
- Nie elkeen mag as ‘n bloedwreker optree. Dit mag net ‘n naaste familielid van die persoon wees wat doodgemaak is. Dit was juis die losser wat as bloedwreker moes optree. ‘n Losser het die plig gehad om sy naaste bloedverwant wat hom as slaaf moes verkoop, vry te koop. (Lev 25:47-49). Hy het ook die taak gehad om ‘n naaste familielid wat sy grond moes verkoop te los en so daarvoor te sorg dat daardie familielid sy eie stuk grond kon behou en nie tot armoede sou verval nie. (Lev 25:23-28) Die derde verpligting wat ‘n losser volgens die HERE se wet gehad het, was die plig tot bloedwraak. Dit is jammer dat ons dit in ons vertaling nie meer kan sien nie. Die Hebreeus gebruik die Hebreeuse woord vir losser, go’ël (1). Hier vind ons veral die kombinasie go’ël haddam (2). Die woord haddam is die woord vir bloed. Hierdie woord word in ons vertaling in die verband met bloedwraak nie met losser maar dadelik met bloedwreker vertaal. Die tekste waar die woord goël so gebruik word is: Num 35:12,19,21,24,25,27; Deut 19:6,12; Jos 20:3,5,9; 2 Sam 14:11; 1 Kon 16:11. Dit is dus duidelik dat nie elkeen as bloedwreker mag optree nie. Die inisiatief om die moordenaar te straf moet van ‘n naaste familielid uitgaan. Dit kan ook wees dat hy net die aanklaer is en ander mense stuur om die moordenaar gevange te neem. Sien o.a: Deut 19:11,12.
- ‘n Volgende beperking om sommer in woede ‘n ander dood te slaan was dat dit nie mog gebeur sonder dat getuies bevestig het dat daardie persoon die moordenaar is. ‘n Bloedwreker mog nie op hoorsê getuienis afgaan nie. Dit was selfs so dat een getuie nie genoeg was om die doodvonnis aan die moordenaar te voltrek nie. Ons lees dit in Num 35:30: “As iemand ‘n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie.”
- Elkeen wat ‘n ander doodslaan was nog nie tot die dood skuldig nie. Selfs as getuies iemand aangewys het as die moordenaar mag die bloedwreker nog nie sommer die ander doodmaak nie. Dan moet ondersoek word of hy die ander opsetlik of onopsetlik gedood het. Hierdie onderskeid lees ons o.a. in Eks 21:12-14: “Hy wat ‘n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word. Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar God dit sy hand laat ontmoet het, dan sal ek jou ‘n plek aanwys waarheen hy kan vlug. Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak, moet jy hom van my altaar wegneem om te sterwe.” Sien ook Num 35:19-25
- Bloedskuld ontstaan nie as ‘n mens in ‘n oorlogsituasie ‘n ander doodmaak nie. ‘n Ander voorbeeld waarby geen bloedskuld ontstaan nie lees ons in Eks 22:2: “As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie.”
- Die laaste wette wat daarvoor sorg dat iemand nie onskuldig gedood word nie is dat ‘n mens wat onopsetlik ‘n ander gedood het na ‘n vrystad of die altaar in God se heiligdom kan vlug (3). As iemand dit doen moet ondersoek word of sy daad opsetlik of onopsetlik was. As dit onopsetlik gebeur het, waarborg die vrystad sy veiligheid teenoor die bloedwreker. Sien Num 35:9-34; Deut 4:41-43; 19:1-13; Jos 20. Hierdie reël moes daarvoor sorg dat die bloedwreker nie deur die eerste emosie ‘n verkeerde ding sou doen nie. Dit is dus ook om die emosionele bloedwreker te beskerm. Sien Deut 19:6.
Geen reg in eie hand nie.
Dit is duidelik dat ‘n mens selfs by moord, selfs as hy as bloedwreker aangewys is nie sommer die ander mag doodmaak nie. ‘n Deeglike ondersoek moet eers plaasvind.
Ons sien later in Israel se geskiedenis ook dat ‘n bloedwreker nie die straf kan voltrek sonder die uitspraak van ‘n amptlike regter nie. Ons lees van koning Josafat in 2 Kronieke 19 dat hy regters aanstel en dan vir hulle sê: “So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met ‘n volkome hart. En by al die regsake wat voor julle kom vanweë julle broers wat in hulle stede woon, oor moord, oor wette en gebooie en insettinge en verordeninge, moet julle hulle waarsku, sodat hulle hul nie skuldig maak teen die HERE en ‘n toorn oor julle en oor julle broers kom nie; so moet julle handel, dat julle jul nie skuldig maak nie.” (2 Kron 19:9,10)
Dit is duidelik dat in die loop van die heilsgeskiedenis die amptelike toesig op mense wat die reg in eie hande wil neem sterker word. Ook die voorskrifte ten aansien van die bloedwreker het tot doel dat alles gedoen word om werklik reg te laat geskied en dat mense nie die reg in eie hand kan neem nie. Die HERE gee wette wat daarteen waak dat mense nie as eie regter begin optree nie.
Ons moet vandag profeties optree as die HERE se reg in die samelewing nie geeerbidig word nie. Ons moet dit ook doen as die wette van die land en die regters nie meer God se goeie reg wil handhaaf nie. Nogtans gee dit ons dan nie die reg om met geweld die reg in eie hand te neem nie. Ons moet dan die owerheid met krag daaraan herinner dat die owerheid God se dienaar is wat “die swaard nie verniet dra nie, ‘n wreker om die wat kwaad doen, te straf.” Rom 13:4.
As die owerheid dit op sekere punte nie doen nie mag ons nie self begin straf nie maar moet ons wel die owerheid op daardie punte tot verandering oproep. God hou die owerheid en die regters verantwoordelik as hulle nie die reg bedien nie.
Paulus roep mense in die brief aan die Romeine nie op om keiser Nero dood te maak omdat hy met groot plesier al so baie mense vermoor en laat vermoor het nie. Hy roep die gemeente op om selfs aan hierdie keiser gehoorsaam te wees. Paulus self het met sy toestemming moorde laat pleeg, (Hand 26:10) nogtans roep die apostels die lidmate van Christus se kerk nie op om hierdie vervolger van Christus se gemeente te dood nie. Daartoe het die kerk nie die reg nie. Die kerk het die taak om die owerheid op te roep om sy taak as God se dienaar uit te voer. Ook ‘n enkele persoon, ook ‘n medikus het daartoe nie die reg van God ontvang nie. Eie regter speel, hoe lief ons ook vir God se wet is, is sonde!
Hoe belangrik en goed is dit vir elke samelewing dat God se reg en wet in die samelewing geëerbiedig en toegepas word en dat dit amptlik beheer word. Die reg in eie hand neem is ook teen God se wet wat heilig is en goed. ‘n Medikus is geroep om sy werk wat hy kan doen so goed as moontlik te doen. Hy moet dit doen vir elkeen wat dit nodig het. Sonder enige aansien van die persoon.
Noten
- 1. Sien vir ‘n goeie bespreking van die woord go’ël en die werkwoord ga’al:Hulst AR, van Leeuwen C. Bevrijding in het Ou Testament, Kampen: Kok. 1981. p. 51-73. Die grondbetekenis van die woord ga’al is dat deur ‘n sekere handeling iets weer in die oorspronkelike hande of in die oorspronklike toestand terugkeer.
- 2. Enkele belangrike opmerkings oor die go’ël haddam vind ons in: Peels HGL. De wraak van God. Zoetermeer: Boekencentrum. 1992. P 69-71.
- 3. ‘n Belangrike boek as dit om die vrystede en die verder asielreg gaan is: Van Oeveren B, De vrysteden in het Ou Testament. Kampen: Kok. 1968