OUERS: DIE HERDERS VAN HULLE KINDERS

 Oor die verhouding tussen kerk en skool

         

Ons  wil in hierdie artikel oor die verhouding tussen skool  en  kerk  nadink. Ons is sekerlik nie die eerstes wat dit doen nie. Wanneer ons verslae van kerklike vergaderinge in die sestiende en sewentiende eeu lees is dit duidelik dat die onderwys aan die kinders daar ook aandag kry. Die

onderwys is 'n saak wat op kerklike vergaderinge behandel word en selfs in kerkordes en in die belydenis van die kerk genoem word. Ons sal hierdie dinge van nader bekyk en daarna sien wat die bybelse agtergrond vir die aandag vir die onderwys aan die kinders is.

 

Antwerpen 1565

 

Die kerk van Christus word vervolg. Dit was daardie tyd lewensgevaarlik om gereformeerd te wees. Dit was baie gevaarlik om op Sondag met ander gelowiges saam te kom en na God se  Woord  te  luister. Ondanks  die gevaar kom die gereformeerdes selfs in 'n sinode saam. Die gereformeerde kerke          wat vervolg word wil mekaar help en saam op grond van die leer van die Skrif besluite neem. Die eenheid van die geloof,  die eenheid in Christus is vir hulle baie belangrik. Die eerste wat hierdie sinode doen, is dat hulle uitspreek wat hulle gesamentlike belydenis is. Hulle bely dan dat die          Nederlandse Geloofsbelydenis wys wat die kerke van Christus op grond van die Bybel glo. Wanneer die sinode van 1565 dit uitgespreek  het lees ons in artikel 3 van die sinodehandelinge:  "De ouders moeten als herders van hun gezinnen, hun  kinderen, om ze te vormen in de vreze Gods, niet naar scholen  en  andere  huizen zenden,  waar die kinderen bedorven  zouden kunnen worden of aangetast door slechte levenswandel  en leer."

Die sinode dra die ouers op om hulle kinders na skole te stuur  waar onderwys in ooreenstemming met die leer van die Skrif  gegee word. Waar die kinders geleer word om te dink en te leef in ooreenstemming met wat in die kerk vanuit God se Woord geleer word. Die ouers is verantwoordelik vir die opvoeding van hulle kinders. Die HERE roep hulle om herders van hulle kinders te wees.  Om hulle kinders die pad te wys waarop hulle Christus,  wat die Goeie Herder is, volg. Wanneer dit nodig is dat ouers 'n deel van die opvoeding deur ander mense laat gee,  is dit die roeping van die ouers dat          hulle daarvoor sorg dat hierdie deel van die opvoeding, dat die onderwys wat op skool gegee word, in ooreenstemming met God se Woord is.

         

Artikel 21 van die Dordtse Kerkorde

         

In  die  sestiende en sewentiende eeu kry die Gereformeerde Kerke in Nederland  'n  vasgestelde  kerkorde. Die goeie onderwys aan die kinders word so belangrik gevind dat selfs in die kerkorde 'n  artikel  in verband met die onderwys opgeneem  word.   In  die  kerkorde  wat  op die sinode van           Dordtrecht  1618/1619  vasgestel word,  lees ons in artikel 21:  "De  kerkeraden  zullen  alom  toezien,  dat er goede schoolmeesters zyn, die niet alleen die kinderen leren lezen, schryven, spraken en vrye kunsten, maar ook dezelve in de catechismus onderwyzen."

Hierdie  artikel  gaan uit van die praktyk dat die owerheid vir die onderwys sorg en dat die kerk toesig op die leer en lewe van die onderwysers hou. Wanneer die onderwysers dinge sê of doen wat in stryd is met die Skrif, moet die kerkraad vermaan en wanneer die onderwyser nie luister nie moet die

owerheid  hom  op  aandrang  van die kerkraad ontslaan. Op hierdie  manier moes die onderwys in ooreenstemming met die gereformeerde  belydenis  gewaarborg word. In daardie tyd het die  kerk  skole nie opgerig nie maar was die kerk betrokke  by  die  bewaking  van  die  gereformeerde karakter van die onderwys.

In die loop van die eeue het die omstandighede verander en was uitvoering van artikel 21 van die kerkorde nie meer moontlik  nie.  Dit het daartoe gelei dat kerke wat aan die Dordtse  Kerkorde vasgehou het hierdie artikel gewysig het. Die bedoeling van die wysiging was om daarop te bly wys dat kerk en onderwys nie van mekaar geskei mag word nie. Al gebeur  dit  deur die gewysigde omstandighede nou op 'n ander manier as in die sestiende en sewentiende eeu.

Die  Gereformeerde  Kerke  in  Suid-Afrika wys nog altyd in artikel 21 van hulle kerkorde  op die verhouding tussen skool en kerk. Ons lees daar: "Die kerkrade moet toesien dat ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied."

Die  Vrye  Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bepaal in artikel 57 van hulle kerkorde oor die verhouding van kerk en skool:  "Die  kerkrade sal toesien dat die ouers sover moontlik  hul  kinders  laat  onderrig in ooreenstemming met die leer van die kerk soos hulle dit by die doop belowe het."          Dit is duidelik dat in altwee artikels gesê word dat die kerkrade die ouers op hulle taak vir christelike onderwys vir hulle kinders moet aanspreek.  Dit is die ouers se taak om  daarvoor te sorg dat hul kinders onderwys kry wat in ooreenstemming met die gereformeerde belydenis is.  Die

gereformeerde  belydenis self wys op skole waar die kinders onderwys moet word.

 

Sondag 38 van die Heidelbergse Kategismus

         

Wanneer  dit oor die onderwys gaan lees ons in Sondag 38 'n opmerklike sin.  In hierdie Sondag word gevra:  "Wat gebied  God  in die vierde gebod?" Die eerste deel van die antwoord  op hierdie vraag is: "God wil ten eerste dat die Woordbediening en die skole in stand gehou moet word."

Wat word hier met die skole bedoel? Dikwels dink mense dat hier net skole bedoel word waar broers opgelei word om predikant te word.  Dit is nie reg nie. Die opstellers van die Kategismus het dit baie breër bedoel.  Zacharias Ursinus, wat  saam met Olevianus die Kategismus opgestel het, skryf in sy verklaring van die Kategismus by Sondag 38 o.a.: "Hier word  ook op die onderhoud van die skole gewys omdat sonder die geleerdheid en die kennis van tale en ander vaardighede die mense nie  geskik  is om te leer nie. Sonder hierdie dinge is die mense ook nie geskik om volgens die suiwerheid          van  die  leer te lewe en om hulle teen ketters te verdedig nie."

By die gehoorsaamheid aan die vierde gebod behoort ook dat ons die onderwys aan ons kinders in gehoorsaamheid aan God se Woord  laat gee. Ook op hierdie manier moet die Sondag die ander dae  van  die week beïnvloed. Die Woord wat op Sondag gehoor word  moet ons lewe van elke dag bepaal ook die lewe  in  die skole waar ons kinders onderwys ontvang. Dit vra die HERE van  ons  omdat ons kinders nie in die eerste plek ons kinders is nie. Die kinders wat ons van die HERE kry is in die eerste plek God se kinders.

 

Die ouers se taak

 

Wanneer  dit  om  die opvoeding van die kinders gaan is dit nie in die eerste plek die verantwoordelikheid van die kerk of die staat nie.  Die ouers is in die eerste plek daarvoor          verantwoordelik . Dit wys die HERE ons duidelik in Sy Woord aan. Ek sal daarvan 'n enkele voorbeeld noem.  In  Deuteronomium 6 is  dit  die  HERE wat deur Moses vir  Israel  sê dat hulle Hom moet liefhê.  Ons lees dan in vers 6,7: "En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees,   en jy moet dit jou kinders inskerp en  daaroor  spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan en as jy opstaan." (vgl ook 11: 19-21) Dit is duidelik  dat die opvoeding van die kinders 'n taak vir die ouers  is  wat hulle nooit mag los nie. Daarmee moet hulle steeds weer besig wees.

Die  HERE  het Sy verbond met Sy volk gesluit.  Dit beteken dat Hy vir Sy volk sorg, dat Hy Sy goeie wil steeds weer aan Sy volk bekend maak, dat Hy deur Sy dade wys dat Hy die enigste  God  is. Dit mag die volk waarmee Hy Sy verbond opgerig het sien. Dit is groot genade vir hierdie volk. Dit verplig God  se volk om die jeug, om die kinders so te onderwys  dat  hulle  die  HERE leer ken en dat die kinders

weer dieselfde met hulle kinders sal doen. Dit is die lyn van  die verbond waarlangs die HERE wil werk.  Dit word vir ons op 'n baie mooi manier in Psalm 78 gesê:

"Wat  ons  gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie,  maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.  Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel,  wat Hy ons         vaders beveel  het  -  om  dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word,  dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,  en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar." (vers          3-7)

Die  taak  van  die  ouers  is  om daarvoor te sorg dat die onderwys wat aan hulle kinders gegee word hulle nie van die  HERE en Sy Woord vervreem nie. Juis op skole waar dinge geleer word wat van God se wil afwyk is die gevaar van slegte beïnvloeding groot. Ons moet ons kinders nie so opvoed dat          hulle nie weet wat in die wêreld aangaan nie. Ons onderwys  moet daarop gerig wees dat hulle weet wat aangaan en dat hulle  daarteenoor  leer hoe die HERE wil dat hulle leef en daarop  reageer.   Onderwys in ooreenstemming met die gereformeerde belydenis, dus gereformeerde onderwys is daarvoor so belangrik. Ons leef in 'n tyd dat die onderwys wat op staatskole in ons land gegee word,  al hoe meer onchristelik,  ongereformeerd word.  En dan mag ons nie stilsit nie. Die HERE roep  ons  as  ouers om daarvoor te sorg dat ons  kinders  regtig onderwys in ooreenstemming met die leer van          die kerk kan volg. Dit het ons by die doop beloof. Die doop wat ons juis wys dat hierdie kind 'n kind van God is.  Wie so  'n kosbare kind gekry het,  moet die kind ook die beste gee wat hy kan. Dit beteken dat ons, wanneer dit enigsins moontlik is,  gereformeerde onderwys bevorder en soek vir          ons kinders.

         

Die taak van die kerk

         

Wanneer  dit om die onderwys gaan is dit in die eerste plek die opdrag aan die ouers.  Dit wil nie sê dat die kerk daarin geen taak het nie. Die kerk is nie geroep om self skole op te rig nie. Die taak van die kerk en veral van die  kerkraad  is  wel dat regtig met die ouers oor die onderwys vir hulle kinders gepraat word. Dat die ouers op hulle taak gewys word.  Dit moet met oortuiging gedoen word.  Christus se kerk kan 'n groot krag in die samelewing wees om teenoor onchristelike  en  ongereformeerde onderwys die onderwys te bevorder wat die egte wysheid leer.  Dan verstaan die kerk sy  taak.  Dan werk die kerk tot opbou en voordeel van land en volk. Dan werk die kerk tot opbou van Christus se Koninkryk. Die kerkraad sal lidmate moet vermaan wanneer hulle  hul kinders in 'n skool kan plaas wat in oorstemming met Christus se Woord  onderwys  gee en dit tog nie doen nie.

Hierdie  vermaan  is  nodig  omdat die HERE in Sy Woord die ouers  die  taak gee om hulle kinders in ooreenstemming met Christus  se  leer op te voed en te onderwys. Die kerkraad moet daarin aktief  wees.   Dit moet ook in die prediking goeie aandag kry.

Die  onderwys  aan  die  jeug  is  'n saak waarby die hele gemeente betrokke moet wees. Die hele gemeente is daarvoor verantwoordelik  want  by die doop het die kinders deel van die  gemeente  geword.   Dit kom op 'n baie mooi manier vorentoe in 'n formulier wat in die tyd van die Reformasie by die kinderdoop gebruik is. Ons lees daar o.a.:  "Omdat ons kinders nou tot die gemeenskap van Christus gedoop is,  bid ek dat julle, deur Jesus Christus, hulle as lede van ons Here  en  saam met julle as lidmate van die gemeente erken. Dat daarom elkeen van julle,  vir sover Christus julle dit         moontlik  maak,   sal help dat hierdie kinders vir die HERE opgevoed  word  en  dat  elkeen van julle hulle help om met liggaam en siel tot lof van Christus te lewe."

Die  opvoeding  en die onderwys van die jeug is 'n saak van die hele gemeente van  Christus. Daarom  moet  dit die normaalste ding in die wêreld word dat nie net ouers nie maar elkeen in die gemeente geld offer vir gereformeerde skole. Daarom  moet dit die normaalste ding in die wêreld word  dat in kerkdienste gekollekteer word vir die uitbreiding en instandhouding van gereformeerde onderwys.

Kerk, skool en gesin behoort by mekaar omdat die HERE hulle in Sy verbond aan mekaar verbind het. Kerk, skool en gesin moet hulle eenheid in Christus en Sy onderwys vind.