'

DIE GOD WAT LEEF!

 

 

‘n Ondersoek na die woordkombinasies: ‘elohim hajjim,  ‘elohim haj en ‘el haj  in ons konkrete teologiese omstandighede

 

‘n Groot stryd word  hierdie jare in ons land gestry. Baie belangrike en fondamentele vrae word in die teologiese wêreld van ons tyd in ons land gevra. Dit is selfs nie net vrae nie maar stellings wat die fondamente van die geloof in God  raak. Ek wil iets daarvan  vir julle wys.

Die vorige jaar het die boek, die Nuwe Hervorming verskyn. In hierdie boek  skryf  mense wat ‘n groot invloed op die teologiese wêreld in ons land het. Hulle wil tot ‘n nuwe teologie kom. Hulle wys daarop dat ‘n paradigma-skuif in die verstaan van die Bybel gekom het.[2]  Dit is selfs so dat een van die skrywers in hierdie boek in ‘n teologiese tydskrif die volgende geskryf het: “Die volgende spreuk wat soms op motorbuffers te sien is, vat die saak goed saam: “God said it. I believe it. That settles it”. Met so’n Skrifbeskouing kan teologiese fakulteite maar sluit, want dit maak teologiebeoefening onmoontlik.”[3]

Ek gaan vandag nie verder op hierdie onskriftuurlike Skrifbeskouing in nie. Die Nuwe Hervorming maak nie net die Skrif ‘n volledig menslike religieuse boek nie maar erken God selfs nie meer as ‘n persoon nie. Hierdie beskouing van God noem hulle die panenteisme.[4] God is nie ‘n persoon nie maar God is in alles. D. Craffert verduidelik die siening van die Nuwe Hervorming  op hierdie punt so: “Met ander woorde, die idee van ‘n persoonlike god (teisme), of van God as slegs ‘n persoon, het vir baie mense ernstige skade gely. Daar is besef dat die metafoor van God as ‘n persoon van waarde kan wees om sekere aspekte van die goddelike (die finale betekenis van alles) te verwoord, maar dit hoef nie die enigste wyse te wees waarop oor die goddelike gepraat word nie. …… God is nie ‘n persoon nie, maar kan ook met die beeld van ‘n persoon beskryf word. Hy is meer en anders as ‘n persoon of wese en daarom kan byvoorbeeld die idee van panenteisme (God in alles) gebruik word as ‘n alternatief om oor God te praat.”[5]   

Waar hierdie siening toe lei sien ons baie in die nuwe “vertaling” wat Hansie Wolmarans van Psalm 23 gee:

 

“Die aarde versorg my soos ‘n herder

daar is genoeg vir almal

Dit het groen graslande waar ek kan rus

en waters wat my kalmeer.

Telkens is dit asof ek nuut begin leef.

 

Ek kyk om my, en weet wat regverdigheid is:

ek verwonder my oor alles.

Selfs al moet ek swaarkry of sterf

sal ek nie bang  wees nie,

want dood en lyding is nuwe beginne.

Ondanks alles, bly ek veilig hier.

 

My lewe op aarde is ‘n fees,

waar selfs hulle wat nie van my hou nie,

saam met my kan aansit.

Ek voel altyd baie spesiaal.

My beker loop van vreugde oor.

 

Ek weet, solank ek lewe,

sal die aarde vir my sorg

Daarom is ek tuis in die heelal

nou en vir altyd”.[6]

 

Let daarop dat die HERE as persoon heeltemal uit hierdie omwerking van Psalm 23 verdwyn het. Die HERE se plek word deur die onpersoonlike aarde ingeneem.

Kan ‘n mens die dink en praat oor God as onpersoonlik in ooreenstemming  met wat die Bybel  ons van God leer, bring?[7]  Om dit te kan sien doen ons nou ‘n ondersoek na die die woordkombinasie  ‘elohim hajjim’  in die Ou Testament.  

Ons konsentreer ons nou op hierdie uitdrukking terwyl dit ook baie duidelik saamhang met die woorde ‘haj Jahweh’.   Die woordkombinasie ‘haj Jahweh’  vind ons 42 keer in die Ou Testament[8] en selfs ook buite die Bybel op potskerwe wat by Lachis in 1935 en 1938 gevind is.[9] Met hierdie woorde word die HERE wat leef dan as getuie aangeroep. Hy word so aangeroep wanneer mens ‘n eed sweer en die HERE as die getuie daarby geroep word. Hier sien ons al hoe die HERE met baie klem as ‘n persoon, as iemand wat leef  geken word!  Hy word as ‘n ekstra persoon daarby geroep.     

Dieselfde woorde: die HERE leef   word ook gebruik om die HERE  te loof. ‘n Voorbeeld daarvan is Psalm 18:47-51:

Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God van my heil! Die God van my die  wraak  gee en volke aan my onderwerp; wat my red van my vyande; ja, U verhef my bo my teëstanders; U bevry my van die man van geweld. Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing. Hy wat die verlossinge van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.”    

Let ook nou daarop hoe die HERE wat leef juis as ‘n persoon erken word. Hy is die persoon wat selfs meer as die koning is. Hy is dit wat vir Sy gesalfde koning gee dat hy oorwin en oor ander konings heers, Hy is dit wat vir groot reddings sorg in Dawid se lewe.

Nou word dit regtig tyd om ons aandag  op die woordkombinasies ‘elohim hajjim’,’ elohim haj’ en ‘el haj’  te rig. ‘n Mens sien in die vertaling nie meer die verskil tussen aldrie woordkombinasies want die vertaling van aldrie is: die lewende God.

Ons lees van ‘elohim hajjim’  in: Deut 5:26 (Hebr 5:23); 1 Sam 17:26; Jer 10:10; 23:36;  Dan 6:21,27

‘Elohim haj’: 2 Konings 19:4,16

‘El haj’:  Josua 3:10; Hosea 1:10 (Hebr 2:1); Psalm 42:3; 84:3   

Dit is moontlik om die inhoud van die woorde in die volgorde van die Bybelboeke te ondersoek omdat die verskillende woordkombinasies  taalkundig dieselfde beteken het.

 

Deuteronomium 5:26

 

Die boek Deuteronomium is Moses se afskeidspreek. Hy weet dat hy baie vinnig sal sterf. Hy mag nie saam met God se volk die land Kanaan binnegaan nie. Hy gaan nou nog een keer met die hele volk terug in die geskiedenis. Hy wys die volk daarop wat die HERE gedoen het en wat die HERE vir die volk op pad na die beloofde land gesê en beveel het. Hierdie toespraak is een groot oproep vir die volk om die HERE wat Hom so heerlik vir die verbondsvolk gewys het volgens Sy Woord te bly dien, ook in die beloofde land.

Dan herinner Moses ook aan wat by die berg Horeb gebeur het. Hoe die HERE daar Sy verbond met Sy volk gesluit het en toe met Sy eie stem vir hulle die 10 gebooie gegee het. Moses herinner die volk daaraan dat die eie stem van die HERE hulle bang gemaak het. Die oudstes van die volk het toe na Moses gekom en vir hom gevra of hy die HERE wil vra dat Hy nie meer met Sy eie stem met die volk praat nie maar deur Moses verder Sy wil en Sy boodskappe sal gee. Die rede wat die oudstes vir hierdie versoek gee, is: “Maar waarom moet ons nou sterwe?  Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe. Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in lewe gebly het?” Deut 5:25,26

Ons sien hier hoe die vuur van God se heerlikheid op die berg Horeb en God se stem wat die volk gehoor het hulle diep beindruk het. God se stem het hulle laat hoor en voel hoe groot die HERE se grootheid en heiligheid is. Die volk Israel het deur God se stem hul eie kleinheid diep-diep gevoel. Hulle het in Sy stem gehoor en gevoel dat Hy die lewende God  is.

Hy is regtig ‘n Persoon wat leef. Hy is regtig die God wat meer en anders as ‘n beeld is. Hy leef. Dit is ‘n baie belangrike rede hoekom van die HERE geen beeld gemaak mag word waardeur mense hom sou kon aanbid nie.   Hoe anders is die HERE as al die afgode. Ons kan hier dink aan wat ons in Psalm 135 lees: “Die afgode van die heidene is silwer en goud, ‘n werk van mensehande. Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; ook is daar geen asem in hulle mond nie.” vs 15-17

Israel het juis daarin, dat die HERE self met die hele volk gepraat het en dat Sy stem so anders was as elke menslike stem, gesien dat die HERE die God is wat leef. Die hele volk was daarvan getuie en dit is ‘n getuienis wat deur die hele geskiedenis baie belangrik vir God se volk is. Die HERE het Sy stem vir Israel laat hoor en die getuienis van die hele volk dra die geweldige indruk daarvan die geskiedenis in. Die hele volk Israel wat in die woestyn was kan daarvan getuig. Hierdie getuienis het ‘n plek in die Bybel gekry en word daarom van generasie tot generasie deur die Gees verder gedra. Dit is daarom dat die Gees dit ook so in Hebreërs 12 kan gebruik.   

Die angs wat daar by die volk Israel is, wys nog duideliker dat God ‘n Persoon is, dat Hy die persoonlike God is. Dit is duidelik dat God ook teenoor mense staan, dat Hy Sy eie dinge doen en kan doen. Israel is bang dat God se persoonlike stem so vol van Sy heerlikheid hulle die asem sal afsny en dit hulle dood sal beteken.

 

 

Josua 3:10

 

Die volk het na meer as 40 jaar leef in die woestyn by die  rivier die Jordaan gekom. Daar anderkant  die rivier lê die grootste en belangrikste deel van die beloofde land. ‘n Kort rukkie gelede was Moses nog hulle leier. Moses het hulle al die tyd wat hulle in die woestyn was gelei. Die HERE het hom as hulle leier aangewys en dit ook meerdere kere bevestig. Nou dat die volk amper die beloofde land intrek, begin ‘n nuwe periode in Israel se volksbestaan. As die  volk die land binnegaan, kry elke stam sy eie grondgebied en moet die volk ook so ‘n eenheid wees dat elkeen die ander stam nog help om hulle grondgebied te verower. Dit en  ander sake wat die leiding van God se volk betref vra daarvoor dat die volk ‘n goeie en sterk leier het. ‘n Leier wie se gesag deur die hele volk erken word. Dit moet vir die volk duidelik wees dat Josua deur die HERE aangewys is en dat Josua op ‘n besondere manier aan die HERE verbind is.

Juis om dit te bereik, gaan die HERE Hom nou op ‘n besondere manier as die lewende God vir Sy volk op die walle van die Jordaan wys. Ons lees naamlik in vers 7: “Daarop sê die HERE vir Josua: Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het.”

Josua bring nou aan Israel oor wat die HERE gesê het wat Israel moet doen en wat gaan gebeur. Juis in dit wat die HERE nou gaan doen, wys Hy dat Hy die lewende God is. Nou gaan iets gebeur wat net Hy kan doen. Deur dit eers aan te kondig en dan te doen bewys Hy dat Hy leef, dat Hy doen wat hy sê, dat Hy is wie Hy is wat Hy sê Hy is! Dit wys ook hoe Josua die leier van Sy volk is wat Hy met Sy gesag beklee het.

Dan hoor ons in vers 10: “Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaaniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal drywe.”

Dit wat nou voor die oë van God se volk gaan gebeur, bewys dat die HERE die lewende God is wat onder hulle woon. Die God wat die ark in die Allerheiligste as Sy troon het, is die lewende God. Dit wat nou deur God se hand gaan gebeur, is ook die waarborg dat God se volk die hele land sal kan inneem en die huidige bewoners verjaag sal word.

Die HERE wys dat Hy die lewende God is deur te sê dat as die priesters wat die ark dra na die Jordaan stap en hulle voete aan die water raak, die water wat stroom sal stilval. Die water wat op daardie plek is sal wegvloei maar nuwe water sal nie kom nie. Die HERE hou die water by die stad Adam teen en gaar dit daarop sodat God se volk sonder enige gevaar die Jordaan kan oorsteek. Dit is ook wat gebeur. Die Jordaan wat tot sy walle vol gestaan het  (vs 15), word  ‘n droë rivier tot die oomblik dat die hele Israel oorgesteek het en die priesters wat die ark dra as laaste uit die bedding van die rivier die land Kanaan binnegaan.  Dit kan niemand anders as die lewende God doen nie. Dit maak nie net indruk op God se eie volk nie maar ook op die inwoners van Kanaan: “En toe al die konings van die Amoriete wat anderkant die Jordaan na die weste was, en al die konings van die Kanaaniete wat by die see woon, hoor dat die HERE die water van die Jordaan voor die kinders van Israel uit laat opdroog het, totdat hulle deurgetrek het, het hulle hart versmelt en was daar in hulle geen moed meer vanweë die kinders van Israel nie.” 5:1.

Die HERE wys hoe Hy as die lewende God vir Sy volk die vervulling van Sy beloftes gee. Hy baan vir Sy volk die pad van verlossing tot die einde toe. Die HERE jaag juis as die lewende God die vyande van sy volk angs aan en maak hulle moedeloos. Die HERE is geen ding nie maar Hy leef en maak Sy beloftes waar. Kyk o.a. Gen 15:14-21.            

By hierdie gebeurtenis wys die HERE op nog ‘n baie spesiale manier dat Hy die lewende God is. Josua stapel twaalf klippe op in die bedding van die Jordaan.  Dit gebeur terwyl die Jordaan op daardie plek opdroog. Wat sou ‘n mens verwag as die groot massa water weer loskom? Dat dit alles in sy pad sal verniel en wegspoel. Nogtans gebeur dit nie want ons lees in 4:9: “Josua het ook twaalf klippe opgerig in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters, die draers van die verbondsark, gestaan het; en dit is daar tot vandag toe.”   

Die HERE sorg daarvoor dat die water nie as ‘n onbeheerde woeste massa losbars nie maar Hy hou dit ook in Sy hand as die rivier weer verder kan loop. Hy beheer dit so dat die gedenkteken in die Jordaan nie verwoes word nie. Die twaalf klippe bly daar staan as ‘n gedenkteken aan wat die HERE as die lewende God gedoen het!

Die HERE, die lewende God regeer en is die God oor alle volke.

 

 

1 Samuel 17:26

 

Saul is Israel se koning.  God se volk word deur die Filistyne bedreig. Die leërs van Israel en die Filistyne lê teenoor mekaar en is reg om oorlog te voer. Terwyl die twee leërs teenoor mekaar lê is daar ‘n sielkundige oorlog tussen hierdie twee leërs.  Dit hou nou al 40 dae aan. Dit lyk daarop dat die Filistyne besig is om die Israelitiese soldate te ontmoedig. Hulle doen dit deur  die reus Goliat  na vore te laat tree. Hy is met sy wapens ‘n baie indrukwekkende persoon. Hy wys in die woorde wat hy praat die vertroue in die oorwinning, wat daar by die Filistyne is. Hy roep  die Israeliete toe dat hulle ‘n man moet stuur om met hom te veg. As Goliat wen sal die Israeliete die Filistyne se slawe wees en as die ander wen sal die Filistyne die Israeliete se slawe wees. Dan roep hy nog uit: “Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg.” vs 10.

Die Israeliete is nou baie bang. Kyk vers 11. Van Dawid se broers is soldate in Saul se leër. Dawid gaan in sy vader se opdrag na die leër om kos te bring. Juis as Dawid daar kom, tree Goliat weer op en herhaal sy woorde. As Dawid Goliat se woorde gehoor het gee hy hierdie kernagtige tipering van hierdie woorde: “Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?”

Ek wil nou op enkele opvallende punte wys:

  • Goliat sê: “Ek daag die slagordes van Israel vandag uit!” vs 10. Dawid wys dat dit nie in die eerste plek om die volk Israel gaan nie. Dit gaan hier om God se volk en daarom sê Dawid: “Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” vs 26
  • Dawid het dus gewys dat dit hier nie net om ‘n oorlog tussen twee volke gaan nie. As Hy van die lewende  God praat, spreek hy daarin ook die groot angs onder God se volk aan. Kyk ook vers 24. Hy wys dan daarop dat  God se volk  teenoor ‘n volk staan wat wel van sy gode praat maar net dooie gode aan sy kant het. Israel mag juis vol moed wees want hulle is die slagordes van die lewende God.

Israel kan dit juis as dit om die Filistyne en hulle hoofgod gaan baie goed weet. Juis teenoor die Filistyne het die HERE Hom in die geskiedenis al baie duidelik as die lewende God bewys. As ons na 1 Samuel 4 teruggaan, sien ons dit baie duidelik.

Ons moet ook bedink dat dit wat ons daar beskryf omtrent 60 of  70 jaar gelede gebeur het. Dit lê dus nog duidelik in die herinnering van God se volk. God se volk het toe onder leiding van Eli se seuns Hofni en Pinehas ver van die HERE afgewyk. Dan kom daar ‘n oorlog tussen Israel en die Filistyne. Hofni en Pinehas wys hoe ver hulle van die ware diens van die HERE afgewyk het deur God se ark uit die Allerheiligste te haal en saam te neem met die leër. Hulle dink dat hulle die HERE so kan dwing om vir Israel teen die Filistyne te veg. Die HERE straf hierdie ongehoorsaamheid aan Sy wil deur die Filistyne die oorwinning te gee. Dan dink die Filistyne dat hulle god Dagon  die HERE oorwin het. Dit is daarom dat hulle die ark van die HERE in die tempel van hul hoofgod Dagon in Asdod neergesit het. Hulle het die ark by Dagon se voete gesit as teken dat Dagon die HERE oorwin het en Dagon as god die HERE se meerdere is. Let daarop dat die Filistyne glo dat daar meerdere gode bestaan en leef maar dat die een magtiger as die ander is.

Die HERE het as die lewende God, wat ‘n eie Persoon is,  juis vir Israel gewys dat hy God is en nie Israel se slaaf nie. As die verbondsvolk aan Hom ongehoorsaam is staan die HERE, hulle God,  juis teenoor hulle. Dan wys Hy ook so dat Hy leef.

Die Filistyne dink nou dat hulle god Dagon ook leef, dat hy ook god is en selfs magtiger as die HERE. Dan maak die HERE in die Filistynse land, selfs in die tempel van hulle hoofgod Dagon duidelik dat dit nie so is nie. Die eerste nag in die tempel sorg die HERE daarvoor dat die beeld van Dagon omval en die tweede nag nadat hy weer omhoog gesit is, val hy weer en breek sy kop en sy twee hande af. Die HERE laat dan aan die burgers van Asdod en later die van Gat, as die ark daar is, voel dat Hy nie met Hom laat spot nie. Die HERE wys dat Hy die lewende God is en nie Dagon nie.

Hierdie geskiedenis was vir Israel in die dae dat Dawid jonk was nie onbekend nie. Dit was ‘n belangrike gebeurtenis uit die jongste geskiedenis van God se volk. As Dawid daarop wys dat die HERE die lewende God is, wys dit ook terug na hoe die HERE dit teenoor die Filistyne bewys het.

  • As Dawid van die lewende God praat, wys Hy daarmee ook aan dat die sogenoemde ander gode dooie gode is. Wys Hy dat die HERE altyd met al Sy aandag by Sy volk is. Hierin wys die woorde die lewende God hoe dit teenoor die godsdienstige gedagtes van die volke rondom Israel gestaan het. Ek gaan  nou nie verder  daarop in nie omdat ek veral by die bespreking van Jeremia 10:10 dit wil doen.

Dawid se woorde is vir die moedelose leër ‘n teregwysing en ‘n groot bemoediging. Dit wys God se volk op die waarheid dat net die HERE, Israel se God, God is. Dit wys  God se volk dat as hulle in geloof veg, hulle die lewende God se slagordes is en nie kan verloor nie. Net Israel is dan van Goddelike hulp verseker.

 

2 Konings 19:4,16

 

Ons lees in 2 Konings 18,19 hoe koning Sanherib van Assirië tydens Hiskia se regering teen Jerusalem optrek en dit beleër. Sanherib se rabsake voer die woord as die Assiriese leër rondom Jerusalem lê. ‘n Baie opvallende punt in die rabsakê se woorde is dat hy met klem van die HERE praat. Hy erken dat die HERE ‘n god is maar verseker geen god wat magtiger as ander gode is nie.

Ons hoor dit duidelik as die rabsake sê: “En Hiskia moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.  …. En luister nie na Hiskia nie, want hy verlei julle deur te sê: Die HERE sal ons red. Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarvaim, Hena en Iwa, dat hulle Samaria uit my hand kon gered het? Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle hand uit my hand gered het, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?” 18:30,32-35

Koning Hiskia se reaksie op hierdie woorde is dat hy hoë afgevaardigdes na die HERE se profeet Jesaja stuur. Hiskia het rouklere aangetrek en stuur ook sy afgevaardigdes met rouklere na Jesaja. As dit om die woorde van die rabsake gaan, laat Hiskia vir Jesaja sê: “Miskien sal die HERE u God al die woorde hoor van die rabsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God  te smaad, en sal Hy hom straf  oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan ‘n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.” 19:4.

Hiskia vra hier of Jesaja as voorbidder vir God se volk wil optree en of die HERE op die gebed wil bewys dat Hy die lewende God is. Dat Hy die woorde van rabsake gehoor het en dan bewys dat Hy die enigste lewende God is deur Sy Goddelike straf te wys. Dan wys die HERE dat die miskien van die begin van vers 4 in die toekoms vir altyd met verseker  vervang kan word.

 

Die woord wat met in die Ou Vertaling met  miskien  vertaal is, is die Hebreeuse woord   ‘ulai .

Ander vertalings het hier die volgende:

Nuwe Afrikaanse Vertaling:  miskien

Statenvertaling: misschien

Nieuwe Vertaling: wellicht

Willebrord Vertaling: Moge

King James: It may be

New King James: It may be

Zurcher Bibel: Vielleicht

Die woord ‘ulai  wys daarop dat  ‘n mens met ‘n sekere hoop sonder volkome sekerheid  van iets praat.[10] Beteken dit nou dat daar by Hiskia  twyfel  bestaan oor of die HERE wel gehoor het wat die rabsake gesê het? Beteken dit dat Hiskia met die moontlikheid rekening hou dat die HERE ‘n rukkie nie sy aandag by Sy volk gehad het nie?

Dit is hier glad nie ter sprake nie. Die hoor waarvan Hiskia hier praat is dat die HERE dit gehoor het en daarop reageer. Dit beteken nie dat Hiskia dink dat dit die HERE ontgaan het nie maar dat hy vir Jesaja vra om as voorbidder so te bid dat die HERE op die woorde van die rabsake met straf sal reageer en so vir Sy Naam en so vir Sy volk sal opkom.        

  

Let daarop dat Hiskia die woorde wat die rabsake oor die HERE gepraat het, tipeer as “die lewende God smaad”.  Hier is die Hebreeuse werkwoord hrp  in die piël gebruik. Die betekenis van hierdie werkwoord is smaad. Hoe die smaad bedoel word, sien ons baie duidelik in Rigters 5:18 waar dieselfde werkwoord in die piel gebruik word en waar tereg vertaal word met: “Sebulon is ‘n volk wat sy siel gering ag  tot die dood toe.” Die smaad van die lewende God beteken nie dat die HERE se bestaan ontken word nie maar dat Hy openlik geringgeskat word. Die HERE wat die lewende God is word,  met woorde klein gemaak terwyl Hy groter is as wat ons dit kan uitdruk en bedink. Ons sien hier hoe raak Hiskia die rabsake se woorde tipeer.    

Dieselfde lees ons weer as Hiskia na die HERE se huis gaan om die brief van die rabsake, as hy van Jerusalem wegtrek aan die HERE voorlê. Hoe opmerklik is dit dat Hiskia in sy gebed die verskil tussen die HERE en al die ander gode bely. Ons lees naamlik in vers 17,18 dat Hiskia in sy gebed sê: “Waarlik, HERE, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip; daarom kon hulle dit vernietig.”

Hiskia vra dat die HERE sal wys dat Hy die lewende God is! Hy sluit sy gebed naamlik met hierdie woorde af: “Verlos ons dan nou tog uit sy hand HERE, onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.” vs 19.

Dan antwoord die HERE en wys dat Hy die lewende God is en niemand anders nie. Hy wys daarop dat Hy die smaad en laster baie ernstig neem (vs 21-23) en dat Hy meer as die magtige koning van Assirië is. (vs 23-28) Dan hoor ons die HERE se profesie oor Jerusalem en koning Sanherib. (vs 29-34) Dan is dit die verse 35-37 wat ons vertel hoe die HERE met Sy verskriklike straf oor Sanherib en sy leër bewys  dat Hy die lewende God is en niemand anders nie:

“En in dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak – was dit almal dooie liggame! En Sanherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Nineve gebly. En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergeslaan; maar hulle het ontvlug na die land van Ararat; en sy seun Esar-Haddon het in sy plek koning geword.”

Die god Nisrog het ook gewys dat hy ‘n dooie god is want hy kon sy belangrikste vereerder selfs nie in sy eie tempel beskerm nie.

Ons sien hier weer hoe die HERE ‘n persoon is wat teenoor en anders as ander is. Ons sien dit  byvoorbeeld hieraan:

  • Hiskia vra vir Jesaja om tot die HERE te bid en Sy hulp te vra.
  • Hiskia self spreek die HERE as die lewende God aan wat bo alles staan en kan help.
  • Jesaja wys daarop dat die HERE bo Sanherib staan en hom deur en deur ken.
  • Die HERE stuur ‘n engel, ‘n persoon wat 185.000 soldate doodmaak.
  • Die HERE sê wat in die toekoms met Sanherib gaan gebeur en dit gebeur ook regtig onder Sy regering.

Hierdie geskiedenis kan nie verstaan word as die HERE geen persoon is nie en as Hy nie die enigste lewende God is nie.

 

 Psalm 42:3

 

Psalm 42 is in besondere omstandighede geskryf.  Die digter is een van die Koragiete. Die Koragiete was deel van die stam van Levi. Hulle was as Leviete in die tempel veral deel van die sangers ( 1 Kron 6:31 e.v.) en die dorpelwagters ( 1 Kron 9:19, 26:1-19).

Die Koragiet wat Psalm 42 geskryf het, wys ook op sy besondere taak as sanger in God se huis as ons in vers 5 lees: “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ‘n feesvierende menigte!”

Hierdie man se lewe en sy blydskap was sy werk wat hy in God se huis mog doen. Hy mog steeds  naby die HERE wees. Die groot hartseer waarvan hy nou praat is dat hy op ‘n sekere oomblik gevangegeneem is en uit Jerusalem weggevoer is. Nou leef  hy in die Noorde van Israel (kyk vers 7) en is die gevangene van mense wat nie die HERE dien nie. Ons moet hier dink aan mense van ‘n ander volk. ‘n Volk wat ander gode as die HERE dien. ‘n Volk wat veragtlik van die HERE praat. Dit is vir hierdie volk ‘n bewys dat die HERE ‘n swak god is dat hierdie Koragiet nie uit hul hande bevry word en dan na die tempel in Jerusalem kan teruggaan nie.

Hulle spot met die HERE! Steeds maar weer moet hierdie Koragiet hoor: “Waar is jou God?” Hulle praat  oor God asof  Hy onmagtig is. Kyk vers 4,11.  Dit maak hom so hartseer, die hele dag deur.     

Hierdie omstandighede laat hom nog meer na God, die lewende God verlang. Hy wil weer so graag in vryheid naby God in Sy huis wees. Hoe goed is dan die lewe!

Hierdie kind van God het by die ander volk nie saam met hulle ander gode gaan dien nie. Hy het die HERE bly vereer en staan nog steeds bekend as vereerder van God. Hoe baie smaad daarom ookal  oor hom kom. Hoekom verlang hy na God? Omdat hy Hom as die lewende God ken. Hy weet dat al die ander gode net beelde is en nie meer nie. Hy bring hom in sy omstandighede steeds weer tot die belydenis dat God, die God van sy verlossing is. Kyk vers 6,12; 43:5.[11]

Die digter bly in Sy omstandighede bely dat God meer as die omstandighede is. Ook as hy aan sy eie ellendige omstandighede dink. Hoe uitsigloos dit ookal lyk, nogtans stel hy sy hoop en vertroue op die HERE. Hy is naamlik die lewende God. Dit is ook in hierdie Psalm baie duidelik dat  die lewende God nie met die skepping saamval nie. Hy is die enigste God en word juis as die enigste persoon wat werklik God is aangeroep. Die digter van hierdie Psalm verlang juis baie sterk daarna om naby Hom te wees en nie deur die dooie gode van sy verdrukkers omring te word nie.

 

Psalm 84:3

 

Ons het by Psalm 42 al gesien dat een van die spesiale take van die Koragiete in die tempel was om dorpelwagter te wees. Dit is een van die Koragiete wat psalm 84 geskryf het. Hierdie Koragiet betrek homself  duidelik in hierdie Psalm as hy in vers 11 skryf: “Want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.”

Ons lees in die eerste verse hoe hierdie Koragiet daarna verlang om in God se huis te wees. As hy aan sy diens in die tempel dink, juig hy met sy hele wese. As hy juig  weet hy dat dit nie sommer woorde is wat iewers verlore raak nie. Hy juig naamlik tot die lewende God. Dit beteken dat die God na wie hy verlang, oor wie hy jubel hom sien in sy verlange en jubel. Dat die God hom hoor as hy die HERE  grootmaak in sy jubel. Die HERE van die leërskare is nie ‘n god wat nie kan sien, hoor en voel nie. Hy is ook nie ‘n iets wat in alles is en waarin alles is nie.

Die Koragiete weet dit juis vanuit hulle eie familiegeskiedenis baie goed.  Hulle was naamlik nakomelinge van die Korag waarvan ons lees in Numeri 16. Hulle voorvader was een van die leiers van ‘n groot opstand teen Moses in die woestyn. Hierdie opstand het Korag met Datan en Abiram georganiseer. Die groot motief vir hierdie opstand was dat hulle nie wou aanvaar dat Moses en Aaron die leiers van die volk was nie. Hierdie opstand was ‘n baie gevaarlike opstand omdat 250 belangrike manne onder die volk hulle ondersteun het. Kyk Num 16:1,2.

Korag was ‘n Leviet  wat nie wou aanvaar dat hy geen priester kon wees nie. Hy wou hom nie by God se voorskrif neerlê dat priesters uit die nakomelinge van Aaron moes kom nie. Van die aanwysing lees ons in Eksodus 28:1: “Dan moet jy jou broer Aaron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aaron, Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar, die seuns van Aaron”.

Die einde van Korag se opstand is dat die HERE self Sy oordeel oor hierdie opstand wys. Die HERE wys in Sy oordeel dat Hy die lewende God is. Hy laat nie met Sy Woord spot nie. Hy laat nie met Hom spot nie as mense teen die orde opstaan wat Hy vir Sy volk gegee het.

Die HERE kom dan op ‘n besondere, sigbare manier na Sy volk Israel. As Korag met Sy volgelinge dan by die tent van samekoms gekom het en die hele volk daar is om te kyk wat gebeur, lees ons: “Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele vergadering.” Let daarop dat die HERE baie duidelik ‘n ander persoon as die volk is!  Moses waarsku dan dat die groot oordeel van God nou gaan kom. Hulle wat  Korag en die ander nie steun nie moet ver van hulle weggaan. Wie nou bly staan moet weet wat hy doen nou God se heerlikheid verskyn het.  Dan gebeur die volgende:

“En toe Moses al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s'n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering." Num 16:31-33.  Elkeen wat hom by Korag geskaar het, ontvang God se persoonlike straf. Nogtans bly nakomelinge van Korag oor omdat Korag se seuns nie hulle pa se kant gekies het nie. Die HERE bewys as die lewende God aan hulle sy regverdigheid. Ons lees naamlik in Num 26:11: "Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie.”

Hier sien ons hoe juis die familie van Korag ‘n baie lewendige herinnering aan die HERE as die lewende God het. Die lewende God is ‘n persoon wat in Sy huis op aarde woon. Daarin is Hy op  ‘n besondere manier op aarde. vs 2-4  Hy is ook die Goddelike Persoon voor wie die gelowiges verskyn. vs 8

Dit is opvallend dat ons ook in hierdie Psalm, in vers 9,13,  waar ons van die HERE as die lewende God lees die HERE ook die God van die leërskare  genoem word. Dit vind ons ook in:

Die lewende God het ‘n leër. Ook dit maak duidelik dat Hy ‘n persoon is en geen iets is nie. Die HERE gee aan Sy leër bevele en Sy leër en elke afsonderlike soldaat in die leër is aan Hom gehoorsaam. Om ‘n voorbeeld te noem: By God se leër behoort ook son, maan en sterre. Kyk o.a: Rigt 5:20; Jos 10:9-14.  Daarvan lees ons in Jesaja 40:26 waar die HERE Sy grootheid as die lewende God wys: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”       

 

 

     

Jeremia 10:10

 

Jeremia tree op in ‘n tyd dat die afval van die HERE onder die verbondsvolk groot is. Die hoofstukke 8,9 wys dit vir ons baie duidelik  Die invloed van die dien van verskillende gode wat die volke rondom Israel dien is groot.

Juis in hierdie situasie wys die HERE deur Sy profeet Jeremia dat Hy alleen God is en niemand anders nie.[12] 

Die HERE waarsku in vers 20 Sy volk daarvoor om nie aan die religieuse gewoontes en gebruike van die volke rondom hulle gewoond te raak nie. By die gewoontes behoort dat hulle sekere natuurverskynsels vergoddelik en daarom baie bang is as hierdie natuurverskynsels optree.

Let daarop dat die tekens van die hemel waarvan ons in vers 2 lees in vers 13 terugkom en dat Jeremia dan van die HERE sê: “As Hy sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.” ‘n Mens kan tekens wat van die hemel kom nie vergoddelik en aan ander gode verbind nie. Hoekom is dit onmoontlik? Omdat die ander gode niks anders as beelde is nie. Hulle is niks anders as ‘n stuk hout wat met ander materiale versier is nie. Dit is regtig niks anders as dooie gode nie. Baie duidelik wys die Heilige Gees dit deur Jeremia in vers 5: “Soos ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.” Kyk ook Psalm 135:15-18

Teenoor die dooie gode stel die Gees nou: “Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en ‘n ewige Koning; vir sy troon beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie.”

As die aarde beef van magtige tekens wat van die hemel kom, omdat byvoorbeeld die donder en flitse by die donderweer die aarde laat beef is dit niemand anders as die HERE se werk nie. Ons lees daarvan in Psalm 29 op ‘n indrukwekkende manier.

Die HERE is die God wat leef en staan teenoor die nietige afgode. Die opvallende is dat Jeremia in vers 13  veral klem lê op die sogenoemde vrugbaarheidsgode. Dit was naamlik juis hierdie gode wat volgens die volke rondom Israel die mag gehad het oor die sake wat daaer genoem word. Dit was ook die gode wat  die meeste aantrekkingskrag in die geskiedenis op Israel gehad het. Die mees bekende naam vir hierdie afgod is: Baal. Wat is nou die opvallende as ons aan die vrugbaarheidsgode van die volke dink wat reën moet gee? Hierdie gode sterf naamlik in die gedagtes van die ander volke.

Laat ek dit verduidelik aan die voorbeeld van Baal van wie ons dikwels in die Bybel lees.

Baal is die belangrikste god in die Kanaanitiese panteon, terwyl hy nie die hoofgod is nie[13].  Hy het in die loop van die geskiedenis in hom opgeneem die ouer semitiese god Hadad  wat die god van storm, onweer, reen en wind was. Baal het  ‘n ander naam vir Hadad geword. Baal, wat ook die god van die berge is, woon op die berg Safon. Baal voer altyd weer stryd met die god Mot. Mot is die god van die droë seisoen en ook van die dood. As die reën en selfs die dou verdwyn het dit beteken  dat die god Mot Baal oorwin het en Baal dood is. Dan moet Baal se vrou die godin Anat hom weer tot lewe probeer wek. Solank reën en dou nie terugkeer nie is dit die teken dat Anat Baal nog nie tot lewe kon bring nie en Mot nog steeds regeer.

Wie is nou die HERE?  Die lewende God. Hy sterf nooit nie. Hy is die bron van lewe. “Want by U is die fontein van die lewe; in U lig sien ons die lig”. Ps 36:10

“Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Jer 2:13

o HERE, Verwagting van Israel! Almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.” Jer 17:13

Die HERE is die lewende God deur Wie alles wat leef ontstaan het. Alles wat ons in die skepping sien is skepsel en het sy ontstaan en bestaan aan Hom te danke. Let ook daarop hoe die Gees in Jer 10 in die verse 12,13 beklemtoon dat die HERE die Skepper is. Die skepping is nie God nie! Alles is nie in God nie.  God is die Skepper van alles. Hy is die bron van die skepping maar nie deel daarvan nie!

Die laaste deel van vers 10 wys ook hoe die HERE as die lewende God juis teenoor die aarde en die nasies wat daar leef staan. Ons lees daar dat die lewende God van tyd tot tyd die aarde in Sy toorn laat bewe. Hy is nie deel van die aarde nie. Hy staan bo Sy skepping en wys dat Hy meer as Sy eie skepping is want as Hy in Sy toorn kom, beef die aarde. Ook al die mense wat op die aarde leef kan nie staande bly as die HERE in toorn tot hulle kom nie. Hulle kan dit nie verdra nie. Dit wys weer dat die HERE ‘n Persoon is. Dit is nie die aarde wat vir die mense op die aarde sorg nie. Dit is die Skepper van hemel en aarde, die enigste lewende God wat altyd vir Sy kinders sorg sonder dat Hy Sy hele skepping een oomblik uit die oog verloor. Hy leef  en dit beteken dat Hy selfs nooit slaap nie! “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.” Psalm 121: 2-5

 

 

       

Jeremia 23:36

 

Ons lees in hoofstuk 23 vanaf vers 9 hoe erg  die toestand onder die verbondsvolk is. Selfs hulle wat baie na aan die HERE behoort te staan en op ‘n besondere manier die volk in God se Woord onderwys moet gee en God se woorde na die volk behoort te bring is daar groot afval. Ons lees in vers 11: "Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE."  Selfs hulle wat hulle in die 2 stammeryk profete noem, gee totaal verkeerde leiding. Selfs so dat ons in vers 15 lees: “Daarom, so sê die HERE van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wilde-als eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.” Die HERE wys daarop dat die profete wat vrede in hierdie situasie verkondig valse  profete is. Profete wat Hy nie gestuur het nie en nogtans doen asof hulle God se woorde vir die volk verkondig. Die HERE maak duidelik dat hulle ook weet dat Hy hulle hul nie gestuur het nie maar hulle moet nie dink dat Hy nie sien wat hulle doen nie. Kyk vers 23-25.

Jeremia moet in God se naam sê dat die ander profete nie mag sê dat die HERE die las, die opdrag gegee het om ‘n sekere boodskap uit te spreek nie. Dit was baie populêr by hierdie valse profete om te sê: “Die HERE het my gelas”. Dan hoor ons in vers 36: “Maar van: die HERE het gelas – mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die HERE van die leërskare, onse God.”

Die verband waarin die HERE Homself hier  die lewende God noem maak duidelik dat dit hier ‘n duidelike waarskuwing vir die profete is wat die HERE se Naam by hulle boodskap gebruik sonder dat Hy hulle gestuur het. Hierdie “profete” moet baie mooi weet wat hulle doen. Hierdie manne het deur die manier waarop hulle optree eintlik die HERE dood verklaar. Hulle het gedink dat hulle die HERE se naam vir hulle eie populêre boodskap kon gebruik sonder dat die HERE sou ingryp en hulle sou straf. Die HERE wys nou hoe vol erns hulle situasie is. Hulle het die woorde van die lewende God verdraai, misbruik. Juis omdat die HERE die lewende God is, sal Hy reageer. Sal Sy straf verseker oor hulle kom: “en Ek sal julle ‘n ewige smaad oplê en ‘n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.” vs 40  God se straf oor hulle sal so wees dat latere geslagte dit nie vergeet nie en die straf ‘n duidelik aanwysing vir almal sal wees dat die HERE die lewende God is.

Ons sien hier weer hoe die HERE juis as die lewende God as Persoon teenoor ander staan en daarin bewys dat Hy die Persoonlike lewende God is.

Die tweede wat hier opval is hoe duidelik hier gekwalifiseer word wie die lewende God is: “die HERE van die leërskare, onse God.” Die God is die lewende God en geen ander nie.

 

Daniël 6:21,27

 

Mense rondom koning Darius[14] het ‘n lokval vir Daniël gestel. Hulle het dit reggekry dat Darius die wet afgekondig het dat mense ‘n maand lank net tot hom mag bid. Daniël kan daaraan nie gehoorsaam wees nie. Hy bly drie keer ‘n dag tot die HERE bid. Die gevolg daarvan is dat hy gevangegeneem en in die leeu kuil gegooi word. Koning Darius is baie hartseer oor wat gebeur het, want hy verstaan nou dat mense hom hierdie wet laat onderteken het om Daniël te kan doodmaak.

Die volgende oggend vroeg staan Darius op en stap na die leeukuil. Ons lees dan die volgende:

“En toe hy nader kom by die kuil, het hy met droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?” vs 21

Die opvallende is hier dat Darius Daniël noem: “kneg van die lewende God”. Dit lyk asof ons hier te doen het met ‘n titel, ‘n bekende aanspreekvorm vir Daniël. ‘n Aanspreekvorm waarmee Daniël aan die hof getipeer is. Dit beteken dan dat in hierdie aanspreekvorm Daniël se hele lewe aan die hof van Nebukadnesar tot en met  Kores en Darius in herinnering gebring word. Die mense aan die hof weet hoe Daniël se lewe deur sy God gedra word en hoe God juis in Daniël se lewe aan die hof gewys het dat hy die lewende God is. Daaraan bestaan vanuit Daniël se lewe geen twyfel aan die hof dat die God wat Daniël dien leef nie.

Ons moet hierby wel bedink dat hierdie woorde deur ‘n heiden uitgespreek word. ‘n Man wat die HERE die lewende God noem maar ook ander gode erken en dien. Let daarop dat hy in vers 21 God, “jou God” dit is Daniël se God noem.

Koning Darius vra nog die vraag of Daniël se God daartoe in staat was om Daniël van die hongerige leeus te red. Dan wys die HERE juis deur die bewaring van Daniël in die leeukuil dat Hy die lewende God is. Hy regeer. Geen plan en ook geen hongerige leeus kan Sy plan en wil versteur nie. Die leeus is aan Hom onderworpe. Die HERE  het een van sy engele gestuur om Daniël teen die leeus te beskerm. Hier sien ons weer dat die HERE ‘n Persoon is. Hy stuur ‘n ander, iemand wat in Sy diens staan. Die HERE bewys Hom as die lewende God in die verlossing uit die kloue van die leeus. Dit versterk by Darius die oortuiging dat Daniël se God, die lewende God is. Ons sien dit raak as Darius aan die inwoners van sy ryk o.a. die volgende laat skryf: “Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot in ewigheid.” vs 27.

Darius sê hier pragtige dinge van die HERE! Nogtans moet ons bly raaksien dat die HERE nie die enige Godvir Darius is nie. Dit is vir hom nie die enige God met ‘n eie koninkryk nie. Dit bly Daniël se God waarvoor mense ook moet sidder en bewe en onthou om Hom nie kwaad te maak nie. Hy is ‘n magtige God wat werklik bestaan. Hiervan was die redding van die leeus ‘n baie duidelike bewys. Kyk vs 28. 

Die verskil tussen al die kere dat ons in die Ou Testament  van die lewende God lees en hier, is dat dit hier deur ‘n heiden gebruik word wat die HERE nie as die enigste God erken nie. Nogtans erken die heiden Darius die HERE ook as ‘n Persoon.  

    

Hosea 1:10 (Hebr 2:1)

 

Hosea moet die 10 stamme, Israel, baie ernstig aanspreek. Israel het ondanks so baie liefde van die HERE, ondanks so baie waarskuwings wat van die HERE gekom het nie geluister nie. Die HERE wys Israel se sonde as owerspel aan. Om dit te onderstreep moet Hosea met ‘n hoer trou en by haar kinders verwek.[15] Die name wat Hosea aan die kinders moet gee wys daarop hoe die HERE al hoe meer afstand van Israel neem. Die HERE wys by die geboorte van die tweede kind dat die tyd vir bekering vir die 10 stamme verby is. Die tyd vir vergifnis is verby. Ons lees dit duidelik in vers 6:

“Toe het sy weer swanger geword en ‘n dogter gebaar; en die HERE het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugama, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.”

Israel deel nie meer in God se liefde en die heerlike voorregte wat dit as volk van Sy verbond gehad het nie. Die HERE se afstand word nog groter by die derde kind wat uit die huwelik van Hosea en Gomer gebore word. Die HERE neem nie alleen die voorregte wat Hy aan Israel gegee het weg nie maar ontneem hulle ook die naam: God se volk. Ons lees naamlik van die naamgewing van hierdie derde kind: “En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie.” Dit beteken dat die HERE die verbond van die 10 stamme wegneem omdat hulle God se verbond verbreek het. Die kern van God se verbond met sy volk is naamlik wat ons in Genesis 17 lees waar die HERE die besnydenis as teken van die verbond voorskryf. Die HERE wys daar dat die kern van Sy verbond is: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou.” Vs 7

Die gedeelte van Hosea 1:1-9 wys dat Israel die verbond verbreek het en dat die HERE Hom van Sy volk teruggetrek het. Israel het op geen enkele manier nog enige reg dat die HERE Sy verbond met hulle voortsit nie. Dit is die situasie.

Nou kom in vers 10 ‘n onverwagte en heerlike verandering. Israel kan as hulle na die feite kyk op geen enkele manier verwag of hoop dat hulle weer God se volk mag wees nie. Hulle mag nie hoop dat hulle eendag weer God se kinders sal wees nie. Nou kom die wonder van God se liefde. Hy maak deur Sy onpeilbare en onverdiende liefde Israel tog weer tot Sy volk, Hy gee Homself in die verbond tog weer aan hulle. Dit is regtig net God se liefde en genade waarop die 10 stamme geen enkele reg het nie. Die HERE sê nou dat dit selfs sover sal kom: “en in plaas[16] dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie – sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.”

Die HERE wys Hom as die lewende God vir Israel. Hy reageer op wat Israel doen. Hy doen wat Hy gesê het in die verbond. As Sy volk van Hom afval, wys Hy in Sy straf dat Hy leef. Hy wys ook dat Hy anders en meer as mense is. Hy is die God wat leef. Daarom alleen is dit moontlik dat die HERE ook Israel weer tot Sy kinders, Sy volk maak. Sy Goddelike liefde en genade wys hoe Hy vol van lewe is! Hy is die bron van die lewe. Hy is die enigste wat ‘n volk wat in die dood lê, wat net na die stem van eie sondige hart luister weer uit die geestelike dood kan laat opstaan en dit ook doen! Waar alles dood is, waar God se oordeel oor hulle lê vanweë verbondsverlating, kom die HERE as die lewende God en maak mense weer kinders wat Hom volg. Die HERE, die lewende God staan nie magteloos teenoor die dood nie. Hosea wys ook daarop in 6:2 en 13:14. Juis ook daarin dat  die HERE na Pinkster mense uit ander volke tot Christus roep sien ons die vervulling van Hosea 1:10. Kyk Rom 9:22-24 en 1 Petr 2:10. Die volke buite die verbondsvolk het heeltemal in die dood gelê. Niks in hulle het na die lewe met Christus verlang en nogtans roep die HERE mense uit die ander volke en bring hulle tot geloof. Juis in daardie verband lees ons in Romeine 4:17: “soos geskrywe is: Ek het jou (Abraham) ‘n vader van baie nasies gemaak – voor die aangesig van die God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.”

Die lewende God kan tot lewe wek wat Hy maar wil. Johannes die Doper bely dat die HERE die God is wat leef  o.a. met hierdie woorde: “En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.” Matt 3:9.         

 

   

 

    

ENKELE  GEVOLGTREKKINGS

 

Ek gaan nou nie verder in op die gebruik van die woorde: die lewende God in die Nuwe Testament nie. Die gebruik daarvan is heeltemal in ooreenstemming met dit wat ons in die Ou Testament lees.  Die Heilige Gees bou in die Nuwe Testament voort op wat Hy in die Ou Testament laat skryf het. Ek het wel enkele gedeeltes in die Nuwe Testament  by die gevolgtrekkings gebruik om iets van die rykdom van God se Woord te wys. Die HERE bewys Hom as die lewende God juis in die stuur van Sy Seun na die aarde tot verlossing van God se kinders! 

 

  1. ‘n Teologiese skool wat nie die Woord van die lewende God as die lewende Woord (Hebr 4:12) eerbiedig nie, beoefen geen ware teologie nie en moet sy deure sluit.
  2. ‘n Teologiese skool moet die “Seun van die lewende God” (Matt 16:16) volg en Sy uitleg van die Skrif as die Eksegeet navolg. (Joh 1:18)
  3. ‘n Teologiese skool moet hom deur die Seun van God wat Sy kerk vergader laat gebruik en mag dan juis sy deure nie sluit nie.
  4. Die HERE wys Homself in Sy openbaring waarin Hy Hom as die lewende God openbaar, as die enigste Persoonlike God.[17]

Dit blyk o.a. in die volgende:

  1. Die HERE het Hom met Sy stem waarmee Hy die 10 Gebooie uitgespreek het, bewys as die God wat Self vir Sy volk praat. God se volk is nie deel van God nie.
  2. Dit en die hele Skrif wys dat die HERE Homself openbaar. Die lewende God is die sprekende God. Om te ontken dat die HERE ‘n Persoon is stry met die aard van die openbaring.
  3. God het in Sy spreke Sy heerlikheid en heiligheid teenoor Sy volk laat voel.
  4. Hierdie getuienis geld met nog meer klem vir God se volk na Christus se koms. Kyk Hebr 12:18-29.
  5. Die HERE praat met Josua en omdat dit wat Josua namens die Lewende God sê gebeur, bevestig die HERE Josua se posisie as leier.
  6. Die HERE bring Sy volk na die Jordaan en maak die Jordaan wat vol is op ‘n sekere plek droog en laat Sy volk daardeur gaan en wys so dat hy regeer, dat Hy die lewende God is. Dit is ook Sy waarborg dat die volk volgens Sy belofte die hele land sal kan verower.
  7. Die HERE regeer so dat die water wat opgegaar is nie met so ‘n woeste vaart onder toekom dat dit Josua se gedenkteken in die Jordaan verwoes nie.
  8. Dit is opvallende dat die woorde “die lewende God” meerdere kere juis daar gebruik word waar God ook die Here van die leërskare genoem word. Kyk: 1 Sam 17:45; 2 Kon 19:31; Ps 84:2,4,13; Jer 10:16; 23:15,16,36.
  9. Wie God se volk aanval, val God aan. Nogtans val die volk en die lewende God nie saam nie want die volk is God se slagordes.
  10. Dat God meer en anders as Sy slagordes is, bewys die geskiedenis toe die Filistyne die HERE se ark verower het.
  11. God is as die lewende God nie deel van Sy volk want Hy straf hulle en laat hulle die oorlog verloor toe hulle gedink het dat hulle oor Hom kon beskik.
  12. Dat God as die enigste God bo Sy volk staan is juis bemoediging vir die kerk van alle tye.
  13. Die rabsake ag die HERE gering deur Hom met ander gode gelyk te stel. Die HERE wys dan in die straf wat Hy laat kom en die profesie wat Hy gee en wat waarheid word dat Hy die enigste lewende God is.
  14. Die digter van Psalm 42 bely in baie moeilike omstandighede dat die HERE bo alle omstandighede staan. Die HERE is meer as Sy hele skepping en Hy alleen kan verlossing gee.
  15. Die digter van Psalm 84 weet dat die HERE hom ken in sy verlange. Die HERE is ‘n Persoon wat leef.
  16. Die Koragiete ken in hulle familiegeskiedenis die HERE wat mense wat van Hom afval straf en hulle wat Hom trou bly genade bewys.
  17. Die HERE is as die lewende God, die Skepper wat teenoor die dooie gode wat niks anders as die vergoddeliking en verering van natuurkragte is, bewys dat Hy die God is wat geskep het.
  18. Die lewende God het juis in die skepping gewys dat Hy leef. Hy is anders en meer as die aarde, as die hele skepping. Hy is die bron van alle lewe.
  19. God wys in Sy toorn, wat die aarde laat beef, dat Hy bo die aarde en die volke staan en dat Hy regeer!
  20. Die HERE is die lewende God, die enigste ware God wat nooit sterf, nooit slaap nie. Hy is as die Lewende altyd verlossend by Sy kinders.
  21. Profete wat vals in die HERE se Naam profeteer sal eendag voel dat die HERE die Lewende God is omdat Hy hulle vanweë hul valse profesie straf.
  22. Die heidense koning Darius erken dat die HERE die lewende God is sonder dat dit beteken dat hy die HERE as die enigste God ken en vereer.
  23. Die 10 stamme wat nie meer God se volk was nie word deur die HERE se onverdiende liefde tog weer tot kinders van die lewende God aangeneem. Dit wys hoe God se liefde, Sy onverdiende genade ook vir die gelowiges uit die heidene die grond vir hulle kind van God wees is. Hierdie wonderlike liefde wys dat die HERE leef en ‘n Persoon is.
  24. Ons mag die lewende God vandag op die heerlikste manier in die aangesig van Christus  ken (2 Kor 4:6) wat die Seun van die lewende God is. Ons mag deur die Gees van die lewende God (2 Kor 3:3) by Christus behoort en leer om ons tot die lewende God te bekeer. (Hand 14:15) So is ons dan deur die werk van die lewende God tempel van die lewende God (2 Kor 6:16) en gemeente van die lewende God. (1 Tim 3:15)

 

As ons nou nog praat van die sluit van die deure van die Teologiese Skool  mag ons dit verseker nie doen nie. Ons moet juis in die huidige situasie in ons land ook deur hierdie skool met krag  van die lewende God getuig en in Sy diens van kerkvergadering staan.

Die skole wat nie meer die HERE as die enigste lewende God bely nie moet hulle deure sluit en erken dat hulle anti-teologie opleiding geword het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

BIBLIOGRAFIE

 

 ‘d Assonville,  V.E.  2003  Wat moet ‘n Christen vandag nog glo oor God as God as Skepper en sy voorsienigheid? Ongepubliseerde lesing

Aalders, G.Ch.  s.j.   Jeremia  Kampen: Kok

Aalders, G.Ch. 1962   Daniël   Kampen: Kok

Beek, M.A. 1981   Jozua  Nijkerk: Callenbach

Booij, Th. 1994   Psalmen III  Nijkerk: Callenbach

Boshoff, W.S. 1988  Die monoteisme: vroeë rigtinggewer of laat aankomeling in die godsdiensgeskiedenis van Israel? In: Theologica Evangelica  XXI,3 p. 2-14

Brongers, H.A. 1982  II Koningen  Nijkerk: Callenbach

Calvijn, J. 1979   Psalmen I  Goudriaan: de Groot

Calvijn, J. 1979   Psalmen II Goudriaan: de Groot

De Jong, H  1978   De twee Messiassen  Kampen: Kok

De Moor, J.C. 1988  In: Botterweck, G.J./Ringgren, H.  Theological Dictionary of the Old Testament  II  p. 181-192  Grand Rapids: Eerdmans

Durand, J.J.F. 1985  Die lewende God    Pretoria: NG Kerkboekhandel

Gesenius, W. 1962. Handworterbuch uber das Alten Testament.  Berlin: Springer-Verlag.

Gispen, W.H. 1955     Koningen IV  Kampen: Kok

Goslinga, C.J. 1968  I Samuel  Kampen: Kok

Goslinga, C.J. s.j.  Jozua Kampen: Kok

Holwerda, B. 1978  Jozua en Richteren  Kampen: Van den Berg

Hubbard, D.A. 1992  Hosea  Leicester: Inter-Varsity Press

Keil, C.F./ Delitzch, F. 1981  Commentary on the Old Testament I  Grand Rapids: Eerdmans

Keil, C.F./ Delitzsch, F. 1978 Commentary on the Old Testament V Grand Rapids: Eerdmans

Keil, C.F./Delitzsch, F. 1978  Commentary on the Old Testament III  Grand Rapids: Eerdmans

Keil, C.F./Delitzsch, F. 1980   Commentary on the Old Testament II Grand Rapids: Eerdmans

Keil, C.F./Delitzsch, F. 1980  Commentary on the Old Testament IX  Grand Rapids: Eerdmans

Keil, C.F./Delitzsch, F. 1980  Commentary on the Old Testament X  Grand Rapids: Eerdmans

Koehler, L. &  Baumgartner, W. 1985. Lexicon in Veteris Testamenti Libros. Leiden: Bril.

Kraus, H.J. 1967  In:  Evangelische Theologie 27,4  p. 169-199  Munchen: Chr. Kaiser Verlag

Kroeze, J.H. 1962   Koning Hiskia  Potchefstroom: Pro Rege Pers

Kroeze, J.H. 1970   Die prediker van Anatot  Pretoria: NG Boekhandel 

Kwakkel, G. 1997  Navolging tot op de walletjes? In: Schaeffer, J.H.F. (red)  Nuchtere noodzaak p. 117-126  Kampen: Kok

Labuschagne, C.J. 1987  Deuteronomium Ib  Nijkerk: Callenbach

Leupold, H.C. 1985  Exposition of Daniel   Grand Rapids: Baker Book  House

Lettinga, J.P.  1956  De godsdiensten der Kanaaniete en Arameers In: Bleeker, C.J.  De godsdiensten der wereld  II  Amsterdam: Meulenhoff  p 308-342

Maag, V. 1967  Das Gottesverstandnis des Alten Testaments In:  Nederlands Theologisch Tijdschrift  21,3  p. 161-207  Wageningen: H. Veenman & Zonen

Mulder, M.J. 1988  In: Botterweck, G.J./Ringren,H. Theological Dictionary of the Old Testament II p. 192-200  Grand Rapids: Eerdmans

Muller, P. (red) 2002   Die Nuwe Hervorming.   Pretoria: Protea Boekhuis

Noort, E. 1985  Het IK-zijn van Jahwe In: Gereformeerde Theologisch Tijdschrift 85,3 p.132-151  Kampen: Kok

Oosterhoff, B.J. 1990  Jeremia I   Kampen: Kok

Oosterhoff, B.J. 1994  Jeremia II Kampen: Kok

Porteous, N.W.  1965  Daniel   Chatham: SCM Press

Preuss, H.D. 1991  Theologie des Alten Testaments I  Stuttgart: Verlag W. Kohlhammer      

Prinsloo, W.S. 2000  Die lof van my God solank ek lewe  Irene: Medpharm Publikasies

Ridderbos, J. 1963   Deuteronomium Kampen: Kok

Ridderbos, J. s.j.  De Kleine Profeten I  Kampen: Kok

Ridderbos, N.H. 1973   De Psalmen II  Kampen: Kok

Roorda, A  1913   Jozua  Kampen: Kok

Smelik, Klaas. 1984  Behouden Schrift.  Baarn: Ten Have

Spangenberg I.J.J. 1998   Perspektiewe op die Bybel  Pretoria: Van Schaik

Spangenberg I.J.J. 2002  Hoe dink vandag se mense oor die Bijbel? In:  Verbum et Ecclesia 23,1

Spangenberg, I.J.J. 2003  Wat moet ons weet en wat kan ons glo? Ongepubliseerde lesing.

Spronk, K. 1994   Jozua  Kampen: Kok

Taetsch, Th. 1965  Jeremiah  Saint Louis: Concordia Publishing House

Ten Haaf, W. 1981   Gewaarborgde oorwinning  Paarl: Gereformeerde Kerk Paarl

Thomson, J.A. 1974   Deuteronomy  Leicester: Inter-Varsity Press

Van der Lingen, A.  1983  David en Saul in I Samuel 16 – II Samuel 5   ‘s Gravenhage: Boekencentrum

Van Gelderen, C. 1953  Hosea  Kampen: Kok  

Van Leeuwen, C. 1984   Hosea   Nijkerk: Callenbach

Van Leeuwen, C. 1985  Israëls confrontatie met cultus en zeden van de Kanaanieten en van de Assyrisch-Babylonische overheersers  In: Dekker, W. e.a.  Met het Woord in de tijd.  ‘s Gravenhage: Boekencentrum p. 12-26

Van Selms, A. 1980  Jeremia I  Nijkerk: Callenbach

Van Uchelen, N.A. 1977 Psalmen II  Nijkerk: Callenbach

Van Zijl, A.H. 1989  I Samuel II  Nijkerk: Callenbach

Vriezen, Th.C 1977   Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament.  Wageningen: H. Veenman & Zonen

Westerink, J. 1988   Daniël  Amsterdam: Buijten & Schipperheijn

Westerink, J. 1988   Hosea  Amsterdam: Buijten & Schipperheijn

Wielenga, D.K. 1977  Het boek der waarheid  Goes: Oosterbaan &  Le Cointre

Young, E.J. 1978  Daniel  Edinburgh: he Banner of Truth

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

[1]  Hierdie studie is in ‘n sterk verkorte vorm as lesing uitgespreek by die opening van die Teologiese Skool van die Vrye Gereformeerde Kerke  in 2003. Die titel van die lesing was by die geleentheid:  “Moet die deure van die Teologiese Skool gesluit word?”

[2]  Muller, P. (red) 2002  Die Nuwe Hervorming   Pretoria: Protea.  Kyk vir die paradigmaskuif veral Spangenberg se artikel in hierdie bundel  p. 88-111

[3] Spannenberg  In: Ecclesia et Verbum 23,1 p. 187

[4] Die woord panenteisme word in eerder genoemde boek in verskillende betekenisse gebruik en bly daardeur ‘n sekere vaagheid hou.  Dr. Victor ‘d Assonville merk  na bestudering van die gebruik van die woord panenteisme in die boek Die Nuwe Hervorming o.a. op: “Die onnoukeurigheid waarmee die verskillende segsmanne van die Nuwe Hervorming die begrip panenteïsme gebruik, maak egter 'n analise en beoordeling daarvan nie eenvoudiger of makliker nie.  Teenoor Wolmarans se omskrywing van panenteïsme, "God is alles in almal" (2002a:16), sê Muller aan die ander kant weer: "God is inderdaad in alles en alles is in God" (2002:13).  Met die sinsnede God is in alles/almal neig hierdie uitsprake ook na die panen­kosmisme en wyk beide omskrywings van Deist se verklaring van panenteïsme af.  Volgens hom is panenteïsme naamlik 'n "variation of pantheism holding that everything exists in God (and not God in everything), God being the 'whole' that encompasses and surpasses the world of visible things" (Deist, 1984:121,122).  Dr d‘ Assonville het dit in sy nog ongepubliseerde lesing: „ Wat moet ‘n Christen vandag nog glo oor God as Skepper en sy voorsienigheid?” gesê. Hierdie lesing is by die Teologiese dag op 4 Februarie 2003 van die Universiteit van Oranje-Vrystaat aangebied .  

 

[5] Craffert, D. 2002 In: Muller, P  Die Nuwe Hervorming  p 82,83

[6] Wolmarans, H. 2002 In:  Die Nuwe Hervorming  p 65,66

[7] As ‘n mens op hierdie vraag antwoord wil gee, is dit van beslissende belang wat  jou antwoord is op die vrae:  “Wat is teologie?  Is die Bybel daarby die norm? Of het ons ‘n ander norm?”  Vanuit die belydenis dat die Bybel God se Woord is, kan ek nie anders as om te sê dat in die teologie om die kennis van die Drieenige God gaan wat ons in die aangesig van Jesus Christus ken.  Ons ken die HERE as die Dreenige God  vanuit Sy onfeilbare Woord  waarin Hy Homself aan ons geopenbaar het. Vanuit die kennis kan ons die HERE raaksien in die natuur en in die weë wat Hy in die geskiedenis gaan.  Die HERE is meer as wat Hy in Sy Woord  betroubaar van Homself wys maar nooit anders nie.!

[8] Kraus, H.J. 1967 In:  Evangelische Theologie 27,4  p172.

[9] Smelik, K.A.D  1984   Behouden Schrift   Baarn: Ten Have p 117, 123

[10]  Koehler/ Baumgartners  s.v. ‘ulai II  p. 19

   Gesenius  s.v. ‘ulai I   p. 16  

[11] Die woorde van 42:6,12; 43:5 is amper dieselfde. Dit kan daarop wys dat hierdie twee Psalms oorspronklik een Psalm was. As dit nie so is nie wys dit daarop dat hierdie Psalms baie innig met mekaar verbind is. Die enigste verskil tussen hierdie verse is dat ons in 42:6 lees: “die verlossing van sy aangesig” terwyl ons in 42:12; 43:5 lees: “die verlossing van my aangesig”.  Die genitivus in 42:5 wys daarop dat die verlossing van Sy aangesig, van God self kom. Die digter loof  God  van wie die ware verlossing kom. In die twee ander verse lê die klem daarop God  “my”, dit is die digter, verlos het.  Die HERE is die verlossing van enige gelowige en daarom ook hulle persoonlike God.     

[12] Jeremia 10 is een van die hoofstukke wat vir ons wys dat vir die HERE monolatrie ontoelaatbaar is. Monolatrie word deur WS Boshoff so omskryf:  “die permanente verering van slegs een god, alhoewel die moontlik bestaan van ander gode nie uitdruklik ontken word nie (bv. die verering van ‘n stads- of  nasionale god.” Hy skryf dit in die artikel:  Die monotëisme: vroeë rigtinggewer of laat aankomeling in die godsdiensgeskiedenis van Israel  In:  Theologica Evangelica XXI, 3 p. 3     

[13] Enige literatuur oor die Kanaanitiese panteon en Baal se rol daarin is o.a

Lettinga, J.P.  1956  De godsdiensten der Kanaaniete en Arameërs In: Bleeker, C.J.  De godsdiensten der wereld  II  Amsterdam: Meulenhoff  p 308-342

Van Leeuwen, C. 1985  Israëls confrontatie met cultus en zeden van de Kanaanieten en van de Assyrisch-Babylonische overheersers  In: Dekker, W. e.a.  Met het Woord in de tijd.  ‘s Gravenhage: Boekencentrum p. 12-26

Mulder, M.J. 1988  In: Botterweck, G.J./Ringren,H. Theological Dictionary of the Old Testament II Grand Rapids: Eerdmans p. 192-200

De Moor, J.C. 1988  In: Botterweck, G.J./Ringgren, H.  Theological Dictionary of the Old Testament  II Grand Rapids: Eerdmans   p. 181-192

 

     

[14] Was daar ‘n koning Darius die Mediër?

Hierdie vraag en die eventuele oplossings daarvoor sou ‘n aparte artikel vra. Dis duidelik dat die Bybel van koning Darius die Meder praat. Dan 6:1 Tot nou toe is die Bybel die enigste bron wat van Darius die Meder praat. Dit is geen bewys dat ‘n man met hierdie naam nie geregeer het nie. Ons sal in die vervolg van hierdie voetnota nog sien dat dit al eerder gebeur het dat mense beweer het dat sekere persone wat die Bybel noem nie bestaan het nie en dat by verdere ondersoek, by opgrawings en ander ontdekkings  tog die naam van daardie persoon gevind is. Dit  is dus geen  bewys dat as ‘n naam van ‘n sekere koning tot nou toe nie buite die Bybel gevind is nie dat hy dus ook nie bestaan het nie. Hier gee ons aan die Bybel as God se Woord altyd prioriteit, ook as dit om die historiese betroubaarheid gaan.

Net nog een opmerking hieroor. ‘n Interessante veronderstelling  op hierdie oomblik is dat  Darius ‘n sekere tyd saam met Kores geregeer het.

Kores het naamlik Babel verower. Dis bekend dat die aanvoerder van die Mediese leër op ‘n sekere oomblik nie meer in Babel se diens geveg het nie maar hulle by die Perse onder leiding van Kores aangesluit het. Die kans bestaan dat die leër van die Meders dit gedoen het en daarvoor in ruil ontvang het dat een van hulle aanvoerders saam met Kores sou regeer. Dit lyk asof die opvallende formulering in Dan 6:1 daaraan sekere steun verleen. Ons lees daar: “En Darius, die Meder, was twee-en sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.”

Die eerste wat opval is dat Darius al twee-en-sestig jaar was toe hy koning geword het. Verder is die formulering dat hy die koningskap ontvang het baie opvallend.  Hier word  nie gesê dat dit HERE dit vir hom gegee het. Dit sou daarop kon dui dat koning Kores vir Darius uit beloning  die medekoningskap gegee het. Die formulering van Dan 6:29 kan ook daarop wys. Ons lees daar: “En hierdie Daniël was voorspoedig onder die regering van Darius en onder die regering van Kores, die Pers.”

Dis nie nodig om die regering van hierdie twee koning as kronologies na mekaar op te vat nie. Die woord en  kan hier ook daarop wys dat hierdie twee tegelykertyd geregeer het. Toe hierdie twee konings saam geregeer het was Daniël voorspoedig.

Die voorbeeld waarvan ons vroeër nie die naam geken het is Belsassar wat in die boek Daniël genoem word.  Kyk Daniël 5.  Belsasar was nooit die amptelike koning nie. Sy pa Nabonibus was tot Babel se verowering deur Kores  amptelik koning. Nogtans is dit nie eerlik om te sê dat die  die boek Daniël hier histories onbetroubaar is. Veral in die negentiende eeu het mense die boek Daniël kritiseer deur te sê: Belsasar het nie bestaan nie. Die naam Belsassar was toe nog nie in verband met die koningskap   van Babel gevind nie.

Dit verander in die eerste helfte van die twintigste eeu  as die sogenaamde Nabonibus-Cyruskroniek en die Cyrus-silinder gevind word. Dan word duidelik dat Belsasar  wel deeglik bestaan het en dat hy  feitlik  ‘n hele klomp jare die koning van Babel was. Sy pa het uit Babel weggetrek en iewers 1000 kilometer van Babel gaan bly en hom nie meer met die regering van die land bemoei nie.

Hy het die feitlike mag en regering  van Babel vir sy seun Belsassar gegee. Die Bybel  gee nie die staatsregtelike situasie in daardie tyd weer nie maar die feitlike een! Dis nie reg om in so’n situasie te maak asof  die Bybel nie reg is nie.

 

 

[15]  Kyk vir verskillende interpretasies van die huwelik tussen Hosea en Gomer: Kwakkel, G. 1997 Navolging tot op de walletjes? Hosea’s huwelik volgens Hosea 1,2 en 3,1 In: Schaeffer, J.H.F (red) Nuchtere Noodsaak   Kampen: Kok  p. 117-126

[16] Die Ou Vertaling is nie reg as hier vertaal word met “in plaas dat” nie. Ons kan geen geldige parallel vind waar die woorde bemakom asjer so vertaal kan word nie. Ons sal hier vir die vertaling  “op die plek waar” of wat daarmee ooreenkom moet kies.  Parallelle wat genoem is, is 1 Kon 21:19 en  Jes 33:21.  Ons lees in 1 Kon 21:19 dieselfde woorde maar ook daar is die vertaling: “op die plek waar”  die regte een.  As ons na Jes 33:21 kyk, sien ons dat dit nie werklik ‘n parallel is nie want ons lees daar net die woord makom  wat daar as ‘n status konstruktus vertaal moet word.  Op dieselfde plek waar duidelik is dat hulle nie meer God se volk is nie word hulle later weer kinders van die lewende God genoem.       

[17] Th.C. Vriezen gee ‘n waardevolle omskrywing as hy skryf: “Het eigenlijke is dit levend zijn Gods is het persoon-zijn van Jahwe – Hy is niet een kracht, niet een Macht, maar een persoonlijk wezen (1 Sam 17:26,36). Daarom is Jahwe op zo velerlei wijze een levende God; Hij is levend in zijn beweeglijkheid en bewogenheid, in zijn levengevende kracht, in zijn gemeenschap schenkende liefde. (Ps 42:3; 84:3).” Hoofdlijnen der theologie van het Oude Testament, p 344.  

 

'